Absa Wildeklawer Sport Netbal-toernooi 2022 reëls – Afrikaans

Absa Wildeklawer Skole Netbaltoernooi 2022

Toernooireëls

  • Beseringstyd:

In geval van ‘n besering word die spel deur die skeidsregter gestop en die speler word onmiddellik vervang.  Die minimum tyd moet in die proses verlore gaan.  Die posisie kan natuurlik ook oopgelaat word tot die volgende doel aangeteken is. Indien ‘n besering ernstig van aard is en die speler kan nie dadelik van die baan verwyder word nie, moet die skeidsregter die spel stop en dadelik ‘n speler wat op die bank is na die organiserende tegniese tafel stuur om ‘n tegniese beampte te roep.  Daar sal dan beseringstyd, wat mag wissel tussen 30 sekondes tot 2 minute, toegestaan word.  Indien die noodwerkers meer tyd benodig, sal die tegniese beampte die saak hanteer.  Die tegniese beampte sal die beseringstyd bepaal en aan die spanbestuurders oordra en die tyd sal aan die einde van die betrokke kwart bygespeel word.

  • Wedstryde vir o.19’s sal 4 X 8 minute duur met 2 min., 3 min. en 2 min. rustyd. Wedstryde vir o.16’s sal 2 X 12 minute wees met 3 min. rustyd.
  • 2 punte word vir ‘n wen, 1 punt elk vir gelykop en 0 punte vir verloor toegeken.
  • Uitslae vir die bepaling van die posisies na afloop van rondte 15 sal volgens punte bepaal word. Indien spanne in dieselfde poel dieselfde aantal punte het, sal posisies volgens doelgemiddeld (doele vir / doele teen) bepaal word. Indien hierdie spanne steeds gelyk is, sal die uitslag van die betrokke spanne se wedstryd in die groepfase die posisie bepaal. Indien hierdie spanne se wedstryd ‘n gelykopuitslag gehad het, sal die span met die hoogste doeleverskil (doele vir – doele teen) die wenner wees. Indien die uitslag steeds gelykop is, sal die span wat die meeste doele aangeteken het die wenner wees. Indien stééds gelyk sal ‘n muntstuk opgeskiet word om die wenner te bepaal.
  • In rondte 16 – 18 vind oorkruiswedstryde volgens spanne se posisies na afloop van die eerste 15 rondtes plaas (A3 beteken dus 3de in poel A; B4 beteken 4de in poel B; ens.)
  • Indien daar ‘n gelykoptelling aan die einde van rondte 16 – 24 (22 igv o.16) is, moet spanne kante ruil na 1 minuut rustyd en nog 2 helftes van 3 minute elk speel. Indien die telling steeds gelyk is aan die einde van ekstra speeltyd, word daar aangespeel tot ‘n span met 2 doele voor is.  Tellinghouers moet dadelik die organiserende tegniese tafel laat weet indien ‘n wedstryd gelykop is.  ‘n Tegniese beampte sal dan by die baan stelling inneem  en kontrole uitoefen.

 

M du Plessis

Netbalbestuurder

Absa Wildeklawer Sport