Absa Wildeklawer Sport rugby: die hartklop van die Diamante

By Hoërskool Diamantveld word die passies van sport op ‘n uitmuntende wyse uitgeleef. Rugby is vir seker een van die sportsoorte wat die meeste in die skool beoefen word en in Diamantveld is dit die hartklop van die diamante…

JP Vorster, Diamantveld se eerstespan-rugbykaptein, sê dat rugby alles oor sportmanskap gaan. Volgens hom bewys dit dat twee spanne op die veld teen mekaar kan kompeteer, maar sodra die eindfluitjie blaas kan hulle handdrukke uitdeel, nuwe vriende maak en geselskappe aanknoop. Verder sê JP dat die diamante baie hard oefen: “Ons oefen baie hard en sit baie sweet en bloed in as dit kom by rugby. Ons oefen drie tot vier keer ‘n week, met twee sessies in elke oefening!”

As kaptein voel JP dat hy en sy span gereed is vir die uitdaging en hy beweer dat die grootste kompetisie Hoërskool Outeniqua sal wees.

Wynand Botha, voorsitter van DHS en onderkaptein van die eerstespan, sê dat die Absa Wildeklawer Sporttoernooi vir hom vreeslik baie beteken. “Die toernooi is ‘n groot geleentheid om myself te bewys asook die geleentheid om myself teen van die beste rugbyspelers in die land te meet.” Wynand, wat die nommer 10 trui tydens die toernooi sal dra, voel dat die span goed voorberei het. Volgens hom wen harde werk talent en as jy nie hard werk nie sal jy nooit jou volle potensiaal bereik nie.

Die rugbyseuns is baie opgewonde oor die Absa Wildeklawer Sporttoernooi wat voorlê.

Marcus Maree, onder-voorsitter van Hoërskool Diamantveld, is veral opgewonde vir die gees – wat verseker gaan word deur DHS se Pom Pom dansers en die Amok groep, die rugby kyk en atmosfeer van die hele toernooi. Marcus sê dat hy trots is om homself ‘n Diamantvelder te noem.

Rugby beteken vir elke speler iets anders. Ruan Watts, nommer 12 in die span, sê dat sy gunsteling deel van die sportsoort is: “Die gevoel wat die bal vir jou gee as jy dit ontvang en jy sien hoe die spasies voor jou oopgaan of selfs toemaak en jy moet veg vir jou span deur dominante “tackles” en die gebruik van strategie om oor die doellyn te kom en vir jou span punte aan te teken.”

So Diamantvelders druk daai drie, “tackle” daai speler, Dolf Hols skop oor die pale en “Big scrum, Diamands… Big scrum”. – deur Mari-Zanè du Toit