Garsfontein bobaas teen Affies

So gemeet aan die afgelope naweek se rugbyuitslae is die opbou na die Absa Wildeklawer Sporttoernooi besig om goeie momentum te kry. 

Die grootste verrassing vir die naweek was sonder twyfel Garsfontein wat bo verwagting met Affies afgereken het. Die laaste keer wat dié twee spanne kon kragte meet, was in 2010 en toe was Affies oudergewoonte baas. Verlede Saterdag het Garsfontein wel die knoop met ’n enkele punt deurgehak deur die Wit Bulle met 20-19 te klop.

Garsfontein se eerste wedstryd by die Absa Wildeklawer Sporttoernooi is teen Framesby en die span behoort sy keer te ken teen ’n omgekrapte groenspan wat blykbaar moeilik gestuit gaan word.

Paul Roos het ook gewys dat hy nie die toernooi bywoon bloot oor hy genooi is nie. Verlede Saterdag was die span van Stellenbosch met 30 punte teenoor 14 punte baas teen Grey PE.

Die ander wedstryd wat teleurstellend geëindig het, was Grey College van Bloemfontein wat teen halftyd met 20 punte teenoor 3 oorheers het teen Outeniqua van George. Enige rugbykenner sou saamstem dat Outeniqua maklik die bordjies kon verhang in die tweede helfte.  Die span van George het juis gewys hulle gaan vir min spanne terugstaan in dié jaar se Absa Wildeklawer Sporttoernooi.

Diamantveld het Saterdag oortuigend met 54 -10 teen Upington gewen, dus behoort Outeniqua deeglik kennis te neem van die gasheerskool.

Een ding is vir seker: die opwinding vir hierdie jaar se toernooi loop hoog en rugby uit die boonste rakke word verwag!

Foto: Foto geneem deur Andries Kruger, Hoërskool Garsfontein Facebookblad