VIR PUBLIKASIE: ABSA WILDEKLAWER SPORT 2022: 4 MEI 2022

Sport bring hóóp, die land staan op en daar is weer iets om na uit te sien.

Die Absa Wildeklawer-sporttoernooi het Maandag tot ’n einde geloop. ’n Week van opwinding is in ’n oogwink verby. Maande se beplanning, oefening en vasberadenheid van spelers het vrugte afgewerp.

Absa het vanjaar betrokke geraak by dié wêreldklas-toernooi en so ook die Motshepe Foundation, wat dit moontlik gemaak het dat sokker by die skole netbal- en rugbyaanbiedinge gevoeg word.

Louis de Kock, besturende direkteur van Wildeklawer, sê die toernooi het ongelooflike goeie rugby opgelewer. “Ek was baie verbaas dat ons skole na so ’n lang tyd wat hulle nie gespeel het nie, súlke rugby kon oplewer. Die toernooi gaan oor uitmuntendheid en ek dink ons het daarin geslaag.

“Ons kon ook sien dit gaan goed met ons kinders, dit gaan goed met ons skole, die sport is gesond.”

Uitbreiding na sokker

De Kock sê die uitbreiding na sokker het ’n baie groot waarde-toevoeging tot die toernooi gebring. “Die Motsepe Foundation het dit vir ons moontlik gemaak om sokker by te voeg, wat een van die hoofsportsoorte in Suid-Afrika is. Ons is baie opgewonde dat die stigting reeds bevestig het die sokker-deelname moet volgende jaar verdubbel.”

De Kock sê Absa se bydrae het dit moontlik gemaak dat die toernooi kon uitbrei en vanjaar was die grootste toernooi nog. “Met die ekstra fondse kon die standaard en uitmuntendheid slegs verbeter.”

Die ekonomiese inspuiting vir Kimberley was enorm, met gastehuise wat vol bespreek was en inwoners wat hulle huise beskikbaar gestel het. Akkommodasie is ook reg rondom Kimberley, tot sover as Boshof en Douglas, bekom. Hoërskool Diamantveld, Laerskool Newton en Boys’ High, wat die toernooi gehuisves het, het hulleself oortref as ’n fantastiese gasheer, met stalletjies, vermaak, die Pom Pom-meisies se optredes en dan ook ’n BBP-tent van Absa.

Duisende mense besoek toernooi

Daar is ongeveer 8 000 mense per dag deur die hekke. Altesaam 10 200 pizzas, 2 500 sosaties, 1 500 worsrolletjies, 3 900 koffies, 4 700 hamburgers, 3 200 chip sticks, 3 900 ham- en kaastoebroodjies en 22 000 koeldranke is verkoop.

Die ambassadeurs vir die toernooi was Victor Matfield en Dumisani Chauke, met keurders soos Marius Schoeman, SA 7’s se hoëprestasiebestuurder en Sticks. Chauke was veral opgewonde oor die gees by die netbal en sê sy het baie opkomende sterre gesien. “Dit gee jou die geleentheid om raakgesien te word, deur hier netbal te speel. Dit wys jou ook dat jy groot hoogtes kan bereik.”

Stonie Steenkamp, Absa besturende hoof: streeksdekking, Sentraal Suid-Afrika, sê dié toernooi gee nie net hoop vir leerlinge nie, maar ook vir ons land. “Die volwassenes wat die toernooi bygewoon het, het hóóp hier ervaar. Daarom is dit vir Absa so belangrik om deel te wees vanuit ’n gemeenskapsoogpunt.”

Leerlinge betrokke by sosialemedia platforms

Jana Grobbelaar, mediabestuurder van die toernooi, sê die webtuiste het sy meeste besoeke nog ooit gehad, met die 100 000-merk wat oorgesteek is. “Vanjaar het ons ekstra platforms bygebring, soos TikTok, Instagram, LinkedIn en dan natuurlik Facebook. Ons wou vanjaar die leerlinge betrek en het dit reggekry deur ander platforms te gebruik. Die TikTok- en Instagram-rekeninge het binne ’n week meer as 1 000 volgelinge gekry, met video’s wat oor die 22 000 keer gekyk is. Dit was lekker om te sien hoe skole betrokke raak. Dit was ’n reuse-sukses.”

Sport gee uiting aan passie vir sport

Cassie Carstens, toernooibestuurder, sê hy bedank Absa, Wildeklawer, elke skool, elke leerling en elke werknemer en kollega vir die harde werk. “Ons is dankbaar vir almal se positiewe terugvoer en ons sien daarna uit om julle volgende jaar weer by ons te sien. Die terugvoer wat ek van die skole gekry het, was ontsettend positief. Die toernooi het net op die regte tyd gekom sodat die leerlinge weer die passie van die sport kon ervaar. Dit was aansteeklik. Die Motsepe Foundation se afrigters het gesê hoe die leerlinge nuwe vriendskappe gesmee het van die veld af. Krag teen krag het teen mekaar gespeel. Dit was aanskoulike sport. Covid het definitief ’n impak gehad daarop dat die leerlinge geesdriftig deelgeneem het en uiting gegee het aan hulle lus vir sport.”

“Verder wil ek dankie sê aan die media, dis die beste blootstelling wat die toernooi nog ooit gehad het. Dankie aan Dottry Media en FiND iT. Die uitsendings van Super Sport Schools was ‘n groot pluspunt. Die oproepe wat ek ontvang het van mense buite Kimberley, het gesê dit voel of almal vanuit die hele land deel was van die toernooi. Dit word toegeskryf aan die media wat minuut-vir-minuut blootstelling gegee het en die uitsendings deur Super Sport Schools.”

Die rugbyspeler van die toernooi is Janeil Losper, van Paarl Gimnasium. Hy ontvang ‘n R50 000 se geskenkbewys van We Buy Cars om sy eerste voertuig te koop. Renezia Andrews, van Paarl Girls’ High, was die netbalspeler van die toernooi.

Die borge wat bygedra het tot die sukses sluit in natuurlik Absa, Wildeklawer, Vermeulens, Starke Ayres, Kynoch, Agrico, Ricoh – Docuware, MH Office, Nugen, Gilbert, Ramble, Beefmaster, Bevco, XCO, Motsepe Foundation, Mercedes – New Vaal, Sol Plaatje Munisipaliteit, Northern Cape Tourism Authority, Cell C en Huawei.

As jy op die e-poslys gevoeg wil word om in kennis gestel te word van volgende jaar se toernooi, los jou e-posadres hier.

Die datum vir volgende jaar is 28 April – 1 Mei 2023. Sien jou daar!

*Uitgereik deur Dottry Media (Pty) Ltd – Jana Grobbelaar – hello@dottrymedia.com